Hoërskool Montana is sedert 2015 ’n trotse deelnemer aan die strawwe A-bond Interhoër en het in 2025 ’n besonderse vyfde plek behaal. Hierdie prestasie verseker ons plek in die A-bond vir nóg ’n jaar.
Tydens die 2025 Interhoër-byeenkoms het die Monties uitmuntend presteer met ’n totaal van 33 medaljes: 11 goud, 11 silwer en 11 brons – ’n bewys van hul harde werk en toewyding.
Ander hoogtepunte van die 2025-seisoen sluit in:
• ’n Vyfde plek by die Noordheuwel Top 15 prestige-byeenkoms, waaraan 59 skole deelgeneem het. Die Monties het 25 medaljes verwerf: 10 goud, 11 silwer en 4 brons.
• ’n Sesde plek by die Curro Podium-byeenkoms waar 1 970 atlete vanuit 64 skole op uitnodiging deelgeneem het.
Ons is baie trots om te kan sê dat 19 Montie-atlete hul provinsiale kleure in 2025 verwerf het. By die SA Skolekampioenskappe het ons atlete besonder goed presteer en drie SA-kampioene opgelewer. Twee atlete het silwer en een ’n brons medalje ontvang. Tydens die ASA-kampioenskappe het ons atlete weereens hul staal gewys. Die SA-tienkampkampioen is ’n Montie en verder het hulle vyf silwer en een brons medalje huis toe gebring.
Individuele prestasies is ’n bron van trots, maar vir die Monties is die span se diepte net so belangrik. Ons glo in ’n span waar elke atleet ’n verskil maak!
Met ’n terugblik na 2024 is ons trots om te sê dat twee van ons afrigters aan die Afrika Spele deelgeneem het. Mnr. Frikkie Pretorius, wat die Afrika-dekathlonkampioen van 2024 is, het saam met ons atlete aan die ASA-kampioenskappe 2025 in Kaapstad deelgeneem.
Montie-atletiek het in 2025 ’n besonderse seisoen beleef, met prestasies wat ons vir jare sal onthou. Ons sien met groot opgewondenheid uit na die 2026-seisoen en verwelkom graag al ons nuwe Montie-atlete!