Die Fast5-netbalseisoen van 2025 het met groot opgewondenheid begin en ons verwagtinge oortref ten opsigte van deelname, prestasie én ontwikkeling. Hierdie opsomming getuig van die harde werk, toewyding en spanpoging van elke afrigter, speler en ondersteuner.
Die seisoen het amptelik afgeskop met die Fast5-proewe op 30 Julie 2025, waar daar ’n uitstekende opkoms van talentvolle spelers was. Op grond van hul vaardighede, spanwerk en sportmangees is ses spanne gekies - twee junior- en 4 junior spanne.
Elke span het hul eie identiteit en dinamika, en dit was duidelik dat ons in 2025 ’n besondere groep spelers bymekaar gehad het.
Ons jaarlikse Speedbeez-toernooi was weer ’n hoogtepunt op die kalender en is met groot geesdrif deur spanne van regoor die streek bygewoon. Dit was nie net ’n viering van talent nie, maar ook van sportmangees en spanbou.
Die D3- en D15-distrikuitspele het op 29 Augustus by Montana plaasgevind. Dit was ’n dag van hoë intensiteit, sterk kompetisie en uitstekende spel. Ons spanne het met trots deelgeneem en indrukwekkende uitslae behaal.
Prestasies:
• Queenbeez Groen o/18A - tweede plek
• Babybeez o/15A - eerste plek
• Workerbeez o/15A - tweede plek
Al vier ons A-spanne het gekwalifiseer vir die Tshwane-kampioenskappe - ’n bewys van hul vasberadenheid en vaardigheid.
Op ’n baie warm en kompeterende Vrydag het ons spanne hul staal gewys by die Tshwane-kampioenskappe in Menlo. Die kompetisie was sterk, maar ons spelers het hul beste gelewer en die skool met trots verteenwoordig.
Queenbeez Groen o/18A het vierde geëindig en deurgedring na die Gauteng-kampioenskappe - ’n besondere prestasie. Die res van die spanne het ook waardevolle ervaring opgedoen op ’n hoër vlak van kompetisie.
Die 2025 Fast5-seisoen was een van groei, prestasie en ontwikkeling. Ons het:
• waardevolle kompetisie-ervaring opgedoen op distrik-, streek- en provinsiale vlak
• nuwe talent ontwikkel en spangees versterk
• vriendskappe en herinneringe gebou wat lank sal voortleef
Met hierdie stewige grondslag glo ons vas dat 2026 nóg groter hoogtes sal bereik. Ons sien daarna uit om voort te bou op wat vanjaar begin is, met toewyding, passie en spanwerk as ons riglyne.
“Wanneer ons saamwerk, wen ons saam.”
– Fast5-netbalspan 2025