By Hoërskool Montana is landloop meer as net ’n sport - dit is ’n gemeenskap wat mense bymekaarbring. Dit skep ’n ruimte waar atlete, afrigters en ouers saam die harde werk van oefeninge, die opwinding van wedlope en die vreugde van persoonlike prestasies deel.
Landloop leer leerders waardevolle lewensvaardighede soos deursettingsvermoë, dissipline en die krag van spanondersteuning.
Die sport is toeganklik vir almal, ongeag ervaring of fiksheidsvlak. Elke atleet word aangemoedig om sy of haar beste te lewer en voortdurend te verbeter. Die landloopseisoen strek van April tot September, met een van die hoogtepunte die gewilde oefenkamp by Zwartkloof, waar spanbou, avontuur en die natuur ’n integrale deel van die ervaring vorm.
Gedurende die 2025-seisoen het ons Montie-atlete weer sterk presteer. Ses atlete is tydens die Gauteng-Noord Sekondêre Skole Landloopliga onder die top 10 in hul ouderdomsgroepe geplaas. By die AGN-kampioenskappe het een atleet ’n goue medalje verower, terwyl nog ses atlete onder die top 10 geëindig het. Op nasionale vlak het ’n Montie-atleet ook onder die top 10 in sy ouderdomsgroep by die ASA-kampioenskappe geëindig.
Ons is trots op elke Montie-landloper wat met toewyding en trots deelneem, en sien met verwagting uit na nóg ’n jaar vol uitdagings, groei en onvergeetlike oomblikke op die landloopbaan.
Vir meer inligting, kontak me. Ami Janse van Rensburg (ajvn@hsmontana.co.za)